DIE TERUGKEER VAN DIE VERLORE SEUN

J-Kidz
June 18, 2020
Die Halfpadmerk – Ruimsig Gemeente dienste in Julie
June 30, 2020

DIE TERUGKEER VAN DIE VERLORE SEUN

DIE TERUGKEER VAN DIE VERLORE SEUN

Wat beteken die Rembrandt skildery vir my vandag?

Toe ek hierdie Rembrandt skildery vir die eerste keer gesien het, kan ek onthou hoe die hande van die pa wat sy seun teen hom vasdruk by my ‘n indruk gelaat het, dit was vir my op daardie stadium hande vergifnis, herstel, genesing en ‘n veilige plek. My pa is in my arms oorlede aan ‘n hartaanval in 1997, ek was 17 jaar oud en ek kan tot vandag nog onthou hoe sy kop in my skoot geval het, en hoe graag ek hom net wou vasdruk en nog vir een maal sê, hy is my hero. So vir my was hierdie hande wat uitreik om die verlore seun nader te trek iets wat ek na elke dag smag. Ek kon ook in hierdie hande, veiligheid, rus en ‘n tipe van “om net te wees” beleef. Ek was so aangeraak met hierdie beeld, want dit was ook my hunkering om iets van die terugverwelkomende omarming van ‘n pa te kan beleef.

Vandag nog vind ek my so maklik die warmte en veiligheid in die wyshede van boeke, of die aanvaarding van ander mense prober vind. Maar vir my is daar ook so ‘n gevoel van aanvaarding en omgee in my verhouding met Wendy, ‘n plek waar ek kan veilig wees, en my tekortkominge nie mee gespot word nie, maar waar ons die heel word wat daar is in ‘n verhouding kan geniet, daardie heelword kom soms met ‘n paar harde woorde en stampe want die ego wil nie altyd sy knie buig nie. En oor die jare het God my ook die genade van vriendskappe gegee waar ek hierdie liefdevolle omarming kon beleef. God gee deur ander wat met hulle lewens oop leef, die geestelike tuiskoms vir hulle wat arm van gees is, en ek glo sulke vriendskappe en verhoudings is heilige Koninkryks-plekke.

Vir hierdie week se DOEN DIE LEWE, is jy uitgenooi om pen in die hand jou brief te begin skryf, as ‘n gebed, ‘n gesprek tussen jou en jou Hemelse Vader en om aan hom te vertel wat dit beteken om in sy arms veilig te wees, en wat dit vir jou beteken om jou sonde en skuld afgeskryf te hê, deur sy liefdevolle aanvaarding van jou.

Ons elkeen het nodig om by die hand geneem te word en gelei te word na die aanvaarding wat in ons Hemelse Vader is, maar ons het ook nodig om ‘n geestelike Vader / Moeder vir ander te wees en mense op die pad aan die hand te vat en te lei na daardie plekke waar hulle soms bang is om alleen te gaan.

Deel asseblief met ons wat jy in hierdie proses van jouself en van God bewus geraak het. Jou storie kan moontlik ‘n aanmoediging vir iemand anders wees om terug te draai na God toe.

Groete

Stefan Zeelie
LERAAR