Uitreike

Ruimsig Gemeente het sedert ons bestaan in 2001 die eerste 10% van die Gemeente se inkomste aangewend vir uitreikprojekte buite die Gemeente. Die finansies wat deur die Gemeente vir uitreikprojekte geallokeer is, word deur die Uitreik-Finansiële Komitee bestuur en ‘n jaarlikse begroting word opgestel. Die Uitreik-Finansiële Komitee vergader elke ses maande om die huidige projekte te evalueer en wanneer nodig te hersien vir die volgende finansiële jaar.

Al die projekte waarby ons betrokke is, is volhoubaar en is in samewerking met ander organisasies en/of gemeentes. Ruimsig Gemeente is dus slegs een van hul vennote en samewerking met die projek is gebou op langtermynverhouding. Dit is daarom ‘n vereiste dat daar ‘n skakelpersoon of champion vir die projek in die Gemeente is en wat by die projek betrokke is.

Uitreikprojekte wat finansiële ondersteuning maandeliks of per geleentheid ontvang:

Golang Education Outreach is ‘n kleuterskool en naskoolsentrum in Zandspruit wat deur weeklikse sport, kultuur, geestelike en akademiese programme en ‘n daaglikse gebalanseerde maal, beoog om die kinders van Zandspruit se lewens holisties aan te raak.

Mosaic Upliftment Trust werk in vennootskap met die plaaslike kerke in die Gaza en Inhambane-distrik om hulle by te staan en toe te rus.

Pathways Roodepoort is ‘n nie-winsgewende stimulasiesentrum wat leerlinge, wat erg serebraal en fisies gestremd is, op ‘n daaglikse basis versorg en hulle help om hulle volle potensiaal te bereik.

Petra Kollege is ‘n opleidingskollege wat toegewyd is om leiers in kinderbediening toe te rus en te mobiliseer.

Holy Spirit Ministries, onder leiding van Mordt en Trish van Sitters bedien die gemeenskap van Westbury. Mordt is egter ook by verskeie besighede betrokke met geestelike bediening van hulle personeel en hy bedien ook die gemeenskap in die Ruimsig informele nedersetting.

Evangelisasie in Moslem lande deur die ondersteuning van ‘n sendeling en sy gesin. Weens sekuriteit redes kan ons nie meer spesifiek wees nie.