Drive-trough Nagmaal (6 September)
August 31, 2020
Jy word genooi om saam Nagmaal te gebruik
September 4, 2020

POTHOLES

Dis Lentedag, die winter is verby, of so sê die kalender, mens is nie altyd meer seker oor die weer nie.  Met “global warming” is alles bietjie om ver gegooi.  In die ou dae het dit nie gereën in Gauteng in die winter nie my ouma het geglo die eerste reën begin op Paul Kruger dag die 10de Oktober.

Maar ons het ook in 2020 agtergekom dat dinge baie vinnig kan verander en glad nie meer lyk soos in die ou dae nie.  Dis asof die lewe vol groot potholes geword het.

Potholes is so alledaags in Suid Afrika soos braaibroodjies saam ‘n braai. Maar wat dit erger maak is dat die munisipaliteite dit nie regmaak nie en as hulle doen is dit so swak dat dit na die eerste reën weer oopgaan en dan is dit groter. 

Potholes is ‘n realiteit op ons paaie maar as jy daaroor nadink, is dit ook ‘n realiteit in die lewe.  Ons almal het al potholes ervaar op ons lewenspad wat ons journey vertraag of dit soms heeltemal ontwrig.  Potholes is iets in die lewe wat ons daarvan weerhou om vorentoe te beweeg.

Jy probeer potholes vermy ter wille van jou kar se bande… en ons probeer ook dieselfde doen in ons lewe.  Ons almal hoop dat ons Christelike-reis sonder potholes sal wees.  Ons het die verwagting dat as ons nader aan God kom, ons lewe makliker sal word.  Tog lees ons in die Bybel die teendeel.  Daar is hoeveel verhale in die Bybel waar mense na aan God deur baie moeilike tye gegaan het in hulle lewens. 

Ek weet nie van julle nie maar as daar potholes in my lewe kom  veroorsaak dit dikwels ‘n geloofskrisis.  Ek begin vrae vra soos: “Hoekom Here?”

God verwyder nie altyd potholes nie want dis in die pyn en lyding waar ons God en die ware lewe vind.  God gebruik pyn, maar baie belangrik Hy veroorsaak nie die pyn nie. Hy gebruik dit om ons uit te daag en te verander om meer soos Jesus te word. 

Vriende, God het ons elkeen onvoorwaardelik lief en Sy genade vir ons is so groot, maar aan die kant van die graf gaan ons nog potholes in ons lewens tref.  Dit beteken nie God is nie met ons of God straf ons nie, nee ons moet in God glo en Hom vertrou.

Paulus skryf in Romeine 8: 28 “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Ja daar is potholes in ons lewe, ja baie goed het om ons verander, ja daar is onsekerhede en pyn maar ons weet dat ten spyte van dit alles is God nog steeds in beheer.  Hy is met ons en Hy sal alles ten goede laat meewerk.