Bid vir ons land
November 17, 2016
Hierdie jaar gaan J-Gen (Graad 6 en Graad 7) GROOT met hulle “Ken Mekaar” kamp!
January 6, 2017

Ons maak plek vir Spasies

Vir die eerste kwartaal van 2017 lyk die 10:00 tot 11:00 spasies soos volg: 

  1. Die Alpha-kursus is ‘n uitsonderlike opleidingsgeleentheid wat wêreldwyd al meer as 17 miljoen mense toegerus het met ‘n beter begrip van wat ‘n verhouding met Jesus behels. Het jy al ooit gewonder of God regtig bestaan… of hoekom dit vir Jesus nodig was om aan ‘n kruis te sterf? Twyfel jy soms aan gebed en hoe dit werk? Weet jy hoe om die Here se stem te hoor en Sy wil vir jou lewe te leer ken? As hierdie die tipe vrae is wat jou nuuskierigheid prikkel, dan is die Alpha-kursus net die plek vir jou! ‘n Gratis 9-week kursus wat 22 Januarie afskop. Inskrywings is noodsaaklik. 
  1. Dialoog is ‘n spasie waar praktiese gesprekke rondom die Woord en ander relevante temas en waarhede gaan plaasvind, sodat dit lei tot ‘n meer intieme verhouding met God. ‘n Gratis gespreksgroep wat 22 Januarie afskop met 4-week temas wat as geheel of afsonderlik bygewoon kan word. 
  1. Formasie gaan jou help om jou rol in God se Koninkryk beter te verstaan binne die konteks van Ruimsig Gemeente. ‘n Gratis 4-week koninkryksvorming-gespreksgroep wat 19 Februarie afskop. Inskrywings is noodsaaklik. Die Februarie Formasie is reeds vol.  Bespreek nou jou plek vir Mei. 
  1. GriefShare is ’n ondersteuningsnetwerk vir persone wat iemand naby hulle aan die dood afgestaan het… ‘n huweliksmaat, ouer, kind, broer, suster, vriend of vriendin. Elke sessie word begelei deur DVD materiaal, ’n handleiding en gesprekke, gefasiliteer deur opgeleide fasiliteerders wat die uitdagings van die pyn kan verstaan en help om ‘n veilige spasie te skep waar persone kan gesels oor hulle seer, ongemak, isolasie, ensovoorts. GriefShare groepe sal weekliks ontmoet en bystand bied in die uitdagings wat hierdie hartseer bring, sodat persone nader kan beweeg aan ’n lewe wat hoopvol kan wees oor die toekoms. ‘n 13-week program wat 22 Januarie afskop.  Inskrywings is noodsaaklik. Inskrywingsfooi van R100 per persoon om die handleiding aan te koop.