Die Comrades word nie verniet die “ultimate human race” genoem nie, dit is ‘n avontuur wat jou fisies maar ook geestelik toets. Hardloop was nog altyd vir my ‘n tyd van Goddelike ontmoetings, waartydens ek ure op die pad saam vriende oor die lewe kon gesels, maar hulle hardloop my nou weg, en nou is daar baie alleen refleksie tyd. Tussen die gee van elke tree en soms kort asem, raak mens bewus van elke spier wat seer raak en die inspanning wat dit vat om vas te byt. Dit is dan wanneer die gesegde “head over matter” betekenis kry.
Joshua se verhaal is so een van uithou, en gehoorsaamheid. As God aan Joshua in Joshua 6:1-17 Sy vegplan gee, wat insluit dat hulle vir 6 dae om die stad gaan stap sonder om direk oorlog te maak, maar eers op die 7de dag wanneer hulle 7 maal omgestap het dat hulle kan skreeu en op die ramshorings blaas en sien hoe die mure intuimel.
Soms is ons mure net te hoog en oorweldig ons omstandighede ons, dat daar vasgekyk word in wat nie moontlik is nie, maar God laat die manskappe vir 6 dae om hierdie mure stap, in stilte, dit is in hierdie tyd wat hulle moet leer om die een tree voor die ander te sit en te glo. Al lyk dit nie of daar enige deurbraak kom nie, hulle stop nie die oomblik wat dit lyk asof God nie oorwinning gee nie, maar hulle neem hulle posisies in op die 7de dag met dieselfde oortuiging en geloof as wat hulle op die 1ste en die 3de en die 4de dag gehad het.
Moenie opgee nie, VOLHARD in die geloof.
Volharding is ‘n spier wat beoefen moet word. Dit is ‘n geestelike dissipline wat jou in staat stel om aan God vas te hou en op te staan as die lewe jou omstap en vir nog een rondte om die stad te wil stap, want dalk net vandag is jou oorwinningsdag.
Ons wil jou graag nooi om met iemand te gesels as jy beleef hierdie tyd raak vir jou moeilik.
Groete
Stefan Zeelie
LERAAR
As julle Stefan se boodskap Sondag gemis het, gaan kyk gerus by https://youtu.be/eNumO02yjYE ALTERNATIEF kan jy na die boodskap gaan luister op www.ruimsig.com/preke.