Hallo almal,
Wat ‘n roller coaster jaar!! Ons het vinniger deur die levels van Lockdown beweeg as wat ‘n Oos-Rand street racer deur sy ratte gaan! Hier waar ek sit voel ek die effek van hierdie intense emosionele op en af beweging… ek is moeg!! Ek tel ook op by mense met wie ek praat dat die onsekerheid en gedurige verandering baie mense op baie vlakke totaal gedreineer het.
Op 14 Desember het president Ramaphosa aangekondig dat kerke van 250 mense weer beperk word na 100 mense. As Dagbestuur van die Gemeente het ons vanoggend met baie gesprekke, scenarios en opsies gewerk om te besluit wat die veiligste, verantwoordelikste en beste opsies sal wees vir ons eredienste aan die lig van die nuutste aankondiging.
As volgelinge van Jesus moet ons, al is dit soms baie moeilik, voorloop en die reëls gehoorsaam – self wanneer ons voel dat die reëls nie sin maak of regverdig is nie! Soms beteken dit dat dinge nie gaan wees soos ons daarvan hou nie…
As leierskap dra ons die verantwoordelikheid vir mense in ons gemeente se veiligheid en welstand – fisies en emosioneel. Natuurlik is die fisiese samekoms van ons gemeente vir ons kosbaar, maar ons moet die teenkant daarvan, naamlik mense se veiligheid, ook in ag neem.
Ek hoor dat baie mense steeds uitlatings maak soos: “hierdie is net ‘n verkoue” of “ek het COVID-19 gehad en dis glad nie so erg nie”, ….Die realiteit is dat hierdie NIE net ‘n verkoue is nie…dit is waar dat sommige mense gelukkig is en lig daarvan afkom, maar ons het in hierdie tyd ook by mense in ons eie community gesit wat getreur het oor geliefdes wat hulle aan die dood moes afstaan as gevolg van hierdie virus!
Ek hoor ook baie keer die woorde: “Al hierdie reëls is net om ons te beheer en om ons weg te hou van kerk”. Vriende, kerk is nie in ‘n gebou nie! GEEN reëls kan ons keer om ons verhouding met die Here te bou of om die Evangelie te verkondig nie! En wanneer ons verantwoordelik optree, is ons besig om die Evangelie te verkondig! Mense kan dan na ons kyk en sê: “Daar is iets anders aan hierdie mense…Hulle onbaatsugtige liefde en omgee vir hul medemens is sigbaar…. Hulle leef Jesus se liefde op ‘n praktiese manier”
Ons het reeds gekommunikeer dat daar slegs nog 2 fisiese dienste sou wees hierdie jaar (20 en 25 Desember). Maar na bogenoemde oorwegings het ons tot die moeilike besluit gekom:
ONS GAAN TOT EN MET 10 JANUARIE NIE FISIESE DIENSTE BY DIE SKOOLSAAL HOU NIE, MAAR SLEGS AANLYN DIENSTE. Een van die positiewe goed wat vir ons gemeente uit die pandemie gekom het, is die feit dat ons ‘n aanlyn-teenwoordigheid het! Ons is dankbaar daarvoor! Terwyl ons nie kan voorspel hoe die toekoms lyk nie, kan ons steeds aangaan met kerk en kerkwees! Dit gaan soms net anders lyk!
Ek besef ook dat verandering nie altyd maklik is nie, maar wil vir julle dankie sê! BAIE DANKIE vir julle begrip en geduld wanneer ons vinnig moet skuif van fisiese dienste na aanlyn dienste! Dankie dat julle ons help met kommunikasie deur die aankondigings te share op sosiale platforms en dankie dat ons kan staatmaak op julle ondersteuning in hierdie verband! BAIE dankie dat julle toelaat dat die Heilige Gees in hierdie tyd in jou lewe kan werk om ‘n dissipel van Jesus te wees deur woord en daad! Dankie dat julle saam met ons Anders Leef en Connect waar julle is in baie onseker tye!
ONS DIENSTE TOT EN MET 10 JANUARIE, LYK DUS SOOS VOLG:
Die enigste verandering is dus dat die 20ste en 25ste Desember verander na aanlyndienste.
As jy onseker is of enige vrae het, kontak my gerus persoonlik: 082 491 8255 | jan@ruimsig.com
My gebed vir jou is dat jy en jou gesin werklik die beste sal maak van hierdie tyd! Dat julle die kosbare geleenthede sal raaksien om te Connect waar julle is….met God, met mekaar en met mense wat oor julle pad kom!
Mag julle ‘n ware Christusfees beleef en Hom raaksien as die Grootste geskenk wat ons kan kry!
Blessings
JAN SMIT
GEMEENTELEIER