Nadat ek positief getoets het vir die COVID-19 virus en ons gesin in self-isolasie was, is ek baie bewus van die Here se beskerming en ons menslikheid. Ons is gesond en sien uit om hierdie ook as ‘n getuienis van God se genesing te deel. Ek het weer gedink oor die aansteeklikheid van hierdie epidemie, maar ook gedink oor die aansteeklikheid van ons gesindheid, met die hulp van Dr. Burger se gesprekke oor die aansteeklikheid van ons lewens. Meer as ‘n virus wat aansteeklik is, is die werking van die Heilige Gees wat deur ons in hierdie wêreld, in ons huise en by ons vriende is.
Ons word so maklik deur negatiewe, siniese of pessimisme gevul. Dit vat nie lank om in ‘n gesprek aangesteek te word deur alles wat kan verkeerd wees nie, maar as gelowiges word ons uitgedaag om ander met die Jesus-virus aan te steek. Dit bring hoop en omgee, vergifnis en vrede. Dit begin by ‘n ondersoek van jou eie lewe.
Elkeen van ons, as ons eerlik kan wees, weet dat ons sekere goed doen, sê of dink waarvoor ons skaam is. As ek maar dink aan my daaglikse tekortkominge of kom ons noem dit my sondes, bring dit ‘n groot teleurstelling, en selfs skaamte. Dit breek my hart om te dink aan die ongeveinsste of onsimpatieke antwoorde vir my vriende en soms familie. Dit kan baie help as ek dit kan aanvaar en eerlik wees met wie ek is. Dit beteken nie dat daar geen genade en vergifnis is nie, maar dit help om te besef die tipe mense wat ons is en die goed wat ons doen, dit bring ons tot ‘n plek van eerlikheid voor God. “Here ek het U nodig, help my hiermee en vergewe my sondes”. Ek was ongeduldig. Ek het nie geluister nie. Ek was bombasties. Ek het net aan myself gedink. Ek wonder of hulle verstaan hoe oulik ek eintlik is. Natuurlik vra ons nie net vergifnis nie, ons vra vir rigting en aanduiding van ‘n nuwe pad om te begin loop. Ons vra vir wysheid en krag om anders môre op te tree.
‘n Goeie begin is om ‘n lys te maak wat jy dink Jesus se hart breek. – onverdraagsaamheid, ooreet, leuens, om te jok. Maak ‘n lys aan die einde van jou dag en vra waar het jy mis-geslaan om vandag saam met Jesus te stap. Soos die gedagtes na jou kom, vra die Here om jou te vergewe en dan te weet dat jy ‘n geliefde van Jesus is.
Ons gebruik die maand van Augustus om ook daagliks saam te bid en as jy wil deelneem hieraan, kan jy met ons kontak maak met jou kontak nommer dan plaas ons jou op die Gebeds-WhatsApp groep.
Groete
Stefan Zeelie
LERAAR