Ruimsig se standpunt oor die gebruik van nie-christelike woorde, ens.
DIE GEBRUIK VAN NIE-CHRISTELIKE WOORDE, GEBRUIKE, SIMBOLE EN KUNSWERKE VIR ‘N CHRISTELIKE DOEL:
INLEIDING:
As jy al dienste in Ruimsig Gemeente bygewoon het, het jy al beslis gesien dat ons baie gebruik maak van snitte uit flieks soos “Contact”, “The last Samurai” en “Braveheart”, sekulêre liedere, en DVD snitte van kunstenaars soos Brian Adams, U2 en Mike and the Mechanics. Telkemale wanneer ons dit doen word enkele besorgdhede gelig soos dat ons mense probeer “entertain”, dat ons kompromieë sluit met die wêreld en dat ons die evangelie van Jesus Christus afwater. ’n Baie onlangse geval was weer waar ons jeugbediening hulle naam verander het van “The Zone” na “SlipnoT”. SlipnoT herinner baie sterk aan ’n bekende “heavy metal band” met byna dieselfde naam (Slipknot) [met die “k” by]. Alhoewel die nuwe naam van die jeugbediening baie helder verduidelik is as ’n distansiëring van die waardes van die “metal” groep en gevul is met nuwe Bybelse inhoud, was die bekommernis by sommige dat so ’n naam te sterk herinner aan die negatiewe of selfs okkultiese.
Is so iets toelaatbaar vir Christene? Mag die kerk van Jesus Christus sommer net iets neem wat geskep is deur mense wat duidelik nie glo in Jesus Christus nie, en dit gebruik vir die missie van Jesus Christus?
Ruimsig Gemeente antwoord “Ja” op hierdie vraag. Maar ons wil graag verduidelik. Daarom is hierdie paar bladsye ’n kort uiteensetting van die teologie (teologie is maar bloot ’n gemeente of persoon se verstaan van die Bybel oor ’n bepaalde onderwerp) wat agter hierdie praktyke van ons lê.
DIE GETUIENIS VAN DIE BYBEL:
Dis baie interessant dat die Bybel geensins wegskram van gebruike en terme wat ’n vreemde oorsprong buite die Joodse of Christelike tradisie gehad het nie. Die skrywers van die Bybel het die woorde of simbole gebruik asof dit aan God behoort ongeag wie dit vantevore gebruik het vir hulle eie saak. Hulle het hierdie vreemde gebruike herinterpreteer asof die vorige gebruikers van die woord geen reg gehad het tot die woord nie. Kom ons kyk net na enkele voorbeelde:
Koninkryk:
Die woord “koninkryk” was in die tyd van Jesus geen neutrale woord nie, maar ’n gelaaide politiese term, wat uiters oop was vir misinterpretasie. Die woord koninkryk was gebruik deur goddelose heersers soos Herodus die Grote en sy seuns sowel as die gewelddadige Romeinse ryk. Hierdie heersers het die woord gebruik wanneer hulle mag wou misbruik, wanneer hulle hulle wrede manier van doen op jou wou afforseer en jou wou dwing om te doen waarvoor jy nie andersins sou kans sien nie. Hulle het die woord gebruik wanneer hulle baas gespeel het oor lewe en dood en wanneer hulle lewens verwoes het. Vir die Jode in die tyd van Jesus was die woord koninkryk dus ’n anti-God woord. Dis ’n woord wat aan hulle gekommunikeer het dat die gebruikers daarvan geheel en al teen alles is wat God vir sy mense wens.
Tog gebruik Jesus hierdie woord as die primêre term (koninkryk van die hemele/koninkryk van God vgl. Matteus 4:17, Johannes 3:3) om sy eie bediening mee te beskryf. Waarom?
Want die woord “koninkryk” het aan God behoort lank voordat wrede diktators dit gebruik het om hulle onderdane mee te manipuleer en beheer, hiet en gebied. Die Koninkryk van God is immers iets wat al in die tyd van die Ou testament gebruik is wanneer God met sy mense praat oor ’n wêreld waar Hy regeer.
Verder verander die betekenis van ’n woord wanneer iemand daaraan nuwe betekenis gee. Jesus neem die woord uit Herodus se mond, eis dit terug vir God en herinterpreteer dit deur daaraan nuwe betekenis te gee. Hy gebruik júís die woord omdat dit ’n reeds bekende begrip in daardie tyd was. Hy gebruik júís die woord omdat Hy Hom wil distansieer van die goddelose manier waarop hy deur diktators gebruik word. Vir Herodus beteken koninkryk dus geweld, afgodediens, diktatorskap. Vir Jesus beteken koninkryk vrede, vreugde, liefde, geloof, hoop, ensovoorts. “Die oue is verby die nuwe het gekom!”
Wedergeboorte:
Jesus doen dieselfde met die woord “wedergeboorte” (“Van Bo af geboorte”)[Vgl. Johannes 3:3]. In die antieke tye het gode wat geboorte gee veral in die Egiptiese godsdiens ’n belangrike rol gespeel. Gode het geboorte gegee aan hulle onderdane en aan godekinders. Die Aramese godsdiens het dit nog vererger deur die volgende okkultiese gebruik: mense wat nuwe lewe wou ervaar deur die Aramese gode te aanbid het in ’n gat in die grond geklim waaroor daar ’n sif geplaas is. Bo-op die sif is daar dan ’n bul geslag terwyl die bloed drup oor die persoon. Hierdie ritueel is wedergeboorte genoem. Waarom gebruik Jesus dan nou hierdie “heidens-okkultiese” woord?
Want die woord het aan God behoort voordat dit aan die Arameërs behoort het en Hy gee daaraan nuwe betekenis, Goddelike betekenis! Hy herinterpreteer dus die woord. Hy gebruik júís die woord omdat dit ’n reeds bekende begrip in daardie tyd was. Hy gebruik júís hierdie woord omdat Hy Hom wil distansieer van die okkultiese manier waarop hy aanvanklik gebruik is.
Woorde van Epimenides:
Epimenides was ’n Griekse heidense priester wat plus minus 300 jaar voor Christus geleef het. Hy was ook ’n digter en in Handelinge 17:28 sowel as in Titus 1:12 haal Paulus hom aan om Jesus-waarheid mee te verduidelik. Hy sluit nie noodwendig aan by Epimenides se oorspronklike bedoeling van sy woorde nie, maar gee heel nuwe betekenis aan die digter se woorde.
Waarom doen hy dit? Kon Paulus nie beter, méér neutrale taal gebruik het nie, taal wat deur Christene gebruik was? Of kon hy nie eerder ’n digter gebruik het wat nie geassosieer was met die heidense godedom nie? Kon Paulus nie die Grieke mislei deur hulle te laat dink dat Jesus en die godsdiens van die Grieke eintlik altwee aanvaarbaar is nie? Sou dit nie aan Epimenides aanhangers die boodskap kommunikeer dat Epimenides se afgodery eintlik ok is nie?
Wel… dit lyk asof die bekendheid en omstredenheid van Epimenides júís die rede is waarom Paulus die digter se woorde wél gebruik.
Hy gebruik dit want almal in die Griekssprekende wêreld het Epimenides se woorde geken, sy gedigte opgesê en sy liedere gesing. Dis ’n manier waarop hy vir die hoorders die evangelie van Jesus wil bekend maak deur middel van iets waarmee hulle reeds identifiseer en reeds mee bekend is. Hy gebruik Epimenides dus as ’n brug vanaf die wêreld van die hoorders na God in Jesus Christus. Wat Epimenides egter aanvanklik bedoel het is nie die betekenis wat Paulus nou hieraan gee nie. Hy herinterpreteer Epimenides se woorde en gebruik dit om te sê wat God eintlik wil sê.
Wanneer Ruimsig Gemeente dus gebruik maak van woorde van liedere, snitte uit rolprente, dan herinterpreteer ons die kunstenaars se woorde om aan te pas by die Bybelboodskap. Wanneer Bryan Adams byvoorbeeld sing, “everything I do, I do it for you”, sing hy dit waarskynlik aan ’n dame vir wie hy gevoelens het. Wanneer ons dit egter gebruik met visuele beelde van ons bewondering vir God dan herinterpreteer ons dit. Ons gebruik dan daardie selfde woorde om God mee te aanbid.
Wanneer ons dus ’n snit gebruik uit Bruce Almighty, of vir Christene sê dit is ’n leersame prent om te gaan kyk dan bedoel ons nie daarmee dat alle tonele in die fliek volkome aanvaarbaar is nie. Ons probeer sê dat ons baie kan leer oor sekere geestelike temas soos byvoorbeeld gebed, waarom verhoor God nie almal se gebede nie, ensovoorts.
Maar jy kan vra: “Is die regisseur of draaiboekskrywer ’n Christen?”
Ons sou vra: “Maak dit saak?” Kan ons as Christene niks oor God leer by mense wat nie glo nie? Ons glo ons kan. Jesus self het gesê dat nie-gelowiges soms meer insig het as sy eie volgelinge! (Vgl. Lukas 16:8)
Wanneer Maximus in die rolprent “Gladiator” sê: “What we do in life echoes in eternity!”, praat hy vanuit die Grieks-Romeinse verstaan van tyd en ewigheid. Maar beteken dit dat ons nie die stelling mag vul met nuwe Christelike inhoud en daaruit inspirasie mag put nie? Paulus sou sê dat Goddelike waarheid oral te vinde is, of dit nou Christene of nie-Christene is wat dit ontdek, die waarheid bly dieselfde! Want die punt is, wat ons hier besluit het wél ’n impak op die ewigheid!
Afgodsvleis:
Baie mense beweer egter verder dat ons versigtig moet wees om voorwerpe of simbole te gebruik wat gekoppel kan wees aan nie-Christelike oorsprong soos byvoorbeeld die kersboom, “wind chimes”, reënboog, kabouters, trolle, feëtjies ensomeer. Laasgenoemde stelling is gewoonlik gebore uit ’n besorgdheid dat ons die duiwel ‘n “houvas” kan gee oor ons lewens. Hierdie kry egter heel nuwe betekenis as ons sien hoe Paulus skryf aan die gemeente in Korinte aangaande afgodsvleis. In hierdie stad kon vleis relatief goedkoop verkry word by ’n tempelslaghuis. Daar was egter een besorgdheid by sommige Christene: hierdie vleis is gewy aan afgode en het ’n intens okkultiese proses deurloop. Verder beweer Paulus dat almal wat offer aan afgode eintlik aan duiwels offer (1 Korintiërs 10:20)!! Aangesien duiwels direk betrokke is hierby moet alle Christene dus wegbly van hierdie “duiwelse kos”. Reg??
Nee, verkeerd!!! Hoor wat sê Paulus:
“Wat nou betref die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een… Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie… Alles wat in ’n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, 26“want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here.” – 1 Korintiërs 8:4, 8-9, 10:25-26.
Paulus sê: “Eet gerus! Jy sal niks oorkom nie! Jy doen nie noodwendig sonde nie.” Let wel: Paulus beweer níé dat die duiwel onskadelik is en geen gevaar inhou vir ons nie! Inteendeel beweer hy in skrifgedeeltes soos Efesiërs 6:10-17 dat ons ‘n felle stryd voer teen bose magte! Hy beweer egter dat ons stryd met die duiwel nie lê in uiterlike dinge soos afgodsvleis (of wind chimes of kaboutertjies of flieks) nie, maar wel op ‘n ander terrein. In die volgende paragraaf meer hieroor.
Paulus beweer ook dat daar wél omstandighede is waaronder die Christene in Korinte nie die afgodsvleis behoort te eet nie. En dis wanneer dit waarskynlik is dat jou eet van die vleis vir iemand ‘n struikeling kan wees. Hy verbied egter nie die eet van afgodsvleis omdat dit verkeerd of onvanpas sou wees of God sou aanstoot gee nie!
Waar lê ons stryd teen die Bose dan?
Goeie vraag! Mense is gewoonlik besorg dat hulle die Bose gaan mag gee oor hulle lewens deur in kontak te kom met van hierdie dinge. As ons stryd teen die Bose is moet dan nie onsself isoleer van alle bose voorwerpe of begrippe nie? (as daar so iets is) As ons na Paulus en Jesus kyk hoef ons nie ‘n vrees te ontwikkel vir uiterlike dinge soos voorwerpe, name of simbole nie. Waarop ons wel bedag behoort te wees is wat in ons hart aan die gang is. Paulus skryf aan die gemeente in Efese, “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.” – Efesiërs 4:26-27. Hier word gepraat van dinge wat uit ons innerlike kom soos woorde, emosies, sondige gedagtes wat uitloop op sondige handelinge. Die stryd teen die bose lê in ons harte, nie primêr in uiterlike dinge nie. Wanneer ons bitterheid koester en dinge soos onvergewensgesindheid, of haat, of rebellie heens God of iets dergeliks, dís wanneer die Bose ’n houvas op my kry!
Hierdie gedagtes sluit aan by wat Jesus sê in Matteus 12:34-35,
“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.”
Kyk die ook na die bekende Matteus 22:37-40,
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Hiermee skuif Jesus en die Bybel die klem in spiritualiteit van uiterlike godsdiens (die 613 wette en die wettiesheid van die Skrifgeleerdes en Fariseërs) na ’n innerlike gewaarwording. En dis híér waar ons stryd teen die bose lê. Ons hart en denke is die slagveld waarop die bose wil baklei en waarop die Heilige Gees ons wil bystaan. As hy ons innerlike wêreld kan oorwin het hy nie nodig om énige ander aanval te loots nie! Neem egter kennis dat uiterlike dinge en omstandighede ’n geweldige invloed kan hê op ons innerlike gemoedstoestand. Maar die oorwinning oor die negatiewe effek wat die uiterlike kan hê lê steeds nie in ’n distansiëring van alle uiterlike dinge nie maar eerder ’n geestelike dissiplinering van die innerlike (hart).
Ons is dus geroep om vry te leef in hierdie wêreld. Alles behoort mos aan die Here: Taal, kleur, simbole, alles! Ons vergeet soms verder dat ons dae van die week (Maandag, Dinsdag, Woensdag, ensovoorts) en ons maande van die jaar (Januarie, Februarie, Maart, ensovoorts) ook vernoem is na afgode uit die Grieks-Romeinse mitologie! Ons kom egter niks oor daarvan nie! Waarom nie? Want nie een van ons het nog ooit daaraan ’n heidense betekenis geheg nie.
Wat maak ons dan anders as Nie-Christene?
Weereens ‘n uiters relevante vraag. Ons is immers die sout en die lig vir hierdie wêreld (Matteus 5:12-16). Ons andersheid behoort óók nie te lê in ons distansiëring van uiterlike dinge soos kleredrag (behalwe waar kleredrag uitlokkend kan wees), name, voorwerpe, ensovoorts nie. (Behalwe natuurlik waar daar geen herinterpretasie plaasgevind het nie. Dit sal byvoorbeeld jammer wees wanneer ‘n Christenvrou rondloop met ‘n T-shirt wat sê: “I am a bitch!”) Ook ons andersheid behoort éérder te lê in die uitleef van die vrug van die Gees: die radikaliteit van ons liefde vir God en alle mense, die intensiteit van ons vreugde, die kalmte van ons vrede, ons geduld, en al die ander dele van geestelike vrug! (Galasiërs 5:22)
SAMEVATTING:
Om hierdie redes gebruik Ruimsig Gemeente die woorde van sangers en digters, rolprente en TV programme, name en simbole van die wêreld waarin ons leef. Ons doen dit nie om te “entertain” nie. Ons doen dit ook nie om “cool” te wees nie. Ons doen dit om te kommunikeer, effektief en relevant te kommunikeer! Ons glo nie net dat ons die vryheid het om dit te doen nie, maar dat ons geroepe is om te herinterpreteer. Wanneer die New Age beweging ’n reënboog gebruik as ’n simbool, beteken dit dat die volgelinge van Jesus daardie simbool summier moet afskryf en nooit weer gebruik nie?? Nee!! Reënboë behoort tog aan God!
Wanneer die een of ander nie-Christelike groep ’n denneboom gebruik om hulle onbybelse waardes mee uit te druk, moet ons nou alle denne- en kersbome uit ons huis verban tydens Kersfees? Nee!! ’n Kersboom kan ook Goddelike betekenis hê! As jy wel ’n Kersboom gebruik, sorg dus net dat jy dit herinterpreteer want ’n kersboom kan ook ‘n kommersiële betekenis hê.
Laastens: Ruimsig Gemeente en SlipnoT distansieer hulleself ook dus geheel en al van die waardes van die “heavy metal band” genaamd “Slipknot”. Moet ons egter nou staan en toekyk hoe dat hierdie groep die woord vir hulleself “hijack”? Die woord “slipknot” (Skuifknoop) was immers al ’n erkende woord lank voordat hierdie groep dit vir hulleself toegeëien het.
Die woord “slipnot” (“moenie gly nie” sonder die K) is dus vir ons ’n slim en kreatiewe akroniem met woordspeling wat jongmense se aandag mag trek. Dit kommunikeer aan die jong geslag dat God hulle wêreld ken en verstaan en dat Hy Jesus aan hulle wil bekendstel midde-in hierdie deurmekaar Slipknot-wêreld!
Wanneer jongmense dus na Ruimsig Gemeente toe kom sal hulle ’n duidelike, onafgewaterde weergawe ontvang van die evangelie van Jesus Christus!!


[…] Ruimsig se standpunt oor die gebruik van nie-christelike woorde, ens. […]