Ruimsig se standpunt oor Gays

INLEIDING: ONS STANDPUNT OOR DIE BYBEL
Ons grondwaarde oor die Bybel lui soos volg: “Ons glo dat die Bybel God se Woord is, DAAROM word alles in die gemeente gedryf vanuit die Bybel en God se doel vir die gemeente.” Verder sê ons geloofsbelydenis “Die Bybel is die Woord van God en is kragtig, onfeilbaar in sy boodskap en genoegsaam vir enige persoon se geestelike lewe.” Ons bly dus in nederigheid poog om al ons standpunte te grond en te baseer op die Bybel in die konteks waarin hy geskryf is. Ons glo die Bybel is net so relevant vir vandag soos vir die eerste gehoor waarvoor dit geskryf is. Ons glo dus nie dat die Bybel bloot ´n primitiewe boek is wat ontstaan het vir ´n primitiewe gehoor in die verlede nie. Sy gesag geld vandag en sy boodskap is ewig.

Ons verstaan en erken dat daar sekere temas is wat moeilik is om te interpreteer in die lig van die Skrif omdat die Bybel dit nie direk aanspreek nie. Ons probeer egter met ons eie beperkte kennis en insig steeds die riglyne te volg wat die Bybel uitstip. ´n Standpunt oor ´n saak is egter ook iets wat ontwikkel soos wat ´n mens (of gemeente) se verstaan van die Skrif en sy agtergrond ontwikkel, dus is geen standpunt tot in sy fynste detail “in sement” gegiet nie maar onderhewig aan verandering soos wat ons ook die Bybel beter leer verstaan in sy konteks.

HOMOSEKSUALITEIT:

Wat dink God van gay mense? Die antwoord hier is eenvoudig. Die Here het gay mense lief. Wanneer die bekende Johannes 3:16 getuig van God se liefde vir “die wêreld” dan sluit dit alle mense in, ook mense wat gay is. God se liefde vir mense word in die Bybel tipeer as onvoorwaardelik. Jesus het genade betoon aan goeie mense sowel as slegtes. (Hiermee word NIE bedoel dat gays “slegter” is as enige ander persoon nie). Ontvangers van sy genade was leermeesters, kriminele, straatvrouens, tollenaars, vreemdelinge en buitestaanders. Geen mens kan enige iets doen, sê of dink wat God se liefde vir hom/haar kan laat toeneem of afneem nie. God se liefde staan vas en dis finaal. God ís liefde (1 Joh 4:8). Hy het gebroke mense lief en dit sluit gay mense in.

Wat dink God van ´n homoseksuele lewenswyse? Ons gebruik met opset die woord, lewenswyse, aangesien die Bybel dit duidelik maak dat God ons verantwoordelik hou vir die lewens wat ons leef. Die Bybel tipeer ´n homoseksuele lewenswyse as sonde. Dit is duidelik in die lig van tekse soos Romeine 1:26-28, 1 Timoteus 9-10, ens. Dit gaan egter in hierdie tekse baie duidelik oor die “beoefening” van homoseksualiteit. Voor ons dus verder kan gaan, moet ons onderskei tussen ´n homoseksuele oriëntasie (iemand se innerlike romantiese / seksuele geneigdheid tot mense van dieselfde geslag), en ´n homoseksuele lewenswyse (iemand se doelbewuste oorgawe aan die beoefening van ´n homoseksuele lewe). God hou nie ´n homoseksuele persoon verantwoordelik vir sy oriëntasie (sien volgende vraag) nie maar wel vir ´n homoseksuele lewe.

Verder word homoseksualiteit in die Bybel meestal genoem as deel van ´n baie meer volledige lys van sondes soos byvoorbeeld leuens, diefstal, geldgierigheid, dronkenskap (1 Korintiërs 6:9-10) en nog meer. Indien ons dus ´n homoseksuele lewenswyse as sonde beskou sal ons ook erns moet maak met dinge soos leuens en kwaadpratery en nog ander. Homoseksuele lewens is dus nie ´n “groter” sonde as enige ander sonde nie. Ons as die kerk van Jesus Christus sal moet waak daarteen om nie homoseksuele lewens te “label” as ´n tweede “onvergeeflike sonde” (eerste is die sonde teen die Heilige Gees) nie. Dit staan gelyk met alle ander.

Kan iemand gebore word met ´n homoseksuele oriëntasie? Ons dink dat mense nog nie vandag 100% seker is nie maar in ons beskeie opinie maak die Bybel wel ruimte vir so ´n moontlikheid. Ons leef in ´n onvolmaakte en gebroke wêreld waar daar baie dinge gebeur wat buite God se ideale wil val. Wanneer ons Genesis 3 lees oor die sondeval dan sien ons dat die inkom van sonde in die wêreld disharmonie ingebring het in drie verhoudings:

1. Verhouding tussen God en mens: “Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit…” (Genesis 3:23). Skeiding het gekom tussen God en mens.
2. Verhouding tussen mens en mens: “Die mens het geantwoord: ´Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee en ek het geëet.´” Vir die eerste keer kom daar nou beskuldigings in. Moord volg kort daarna (byvoorbeeld: Kain wat vir Abel doodmaak).
3. Verhouding tussen mens en skepping: “Vir die mens het die Here God gesê: ´Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ´n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet.´”

Disharmonie dring die skepping nou binne. Sonde het die skepping “verwar” en nou gebeur dit dat tsunamis ´n land oorspoel of ´n wind huise se dakke afwaai. Hierdie disharmonie in die skepping veroorsaak dat daar mense doof, stom, blind, sonder ledemate, ens gebore word. Net so kan dit ook gebeur dat daar mense gebore word met ´n gay oriëntasie.

Nou ´n stukkie navorsing: ´n Professor in sosiologie, Tony Campolo, wys op navorsing onder seuntjies wat homoseksuele neigings toon. Hierdie neigings word al raakgesien in die kindertjies nog vóórdat hulle oud genoeg is om hulle eie keuses te kan maak. Die homoseksuele oriëntasie is dus níé noodwendig iets wat homoseksuele mense kies nie. Sekere skole in die mediese wetenskap beweer ook dat daar moontlik in die nabye toekoms ´n geen ontdek kan word wat ´n homoseksuele oriëntasie veroorsaak.

Terloops moet ons ook net noem dat mens volgens afleiding kan onderskei tussen aangeleerde homoseksualiteit en ´n meer inherente en diepgewortelde homoseksualiteit. Meer oor die eerste: Homoseksuele neigings kan onbewus of doelbewus aangeleer word deur iets soos trauma tydens die kinderjare soos byvoorbeeld molestasie, disfunksionele gesinsopset of iets anders. Homoseksuele gedrag wat aangeleer is kan met die tyd genees word soos wat die genesing van ander emosionele wonde plaasvind.

Om op te som:
Dit lyk volgens alle gegewens dat sommige mense gebore kan word met ´n homoseksuele oriëntasie.
Die Bybel maak ruimte vir hierdie verskynsel en ook vir die feit dat ´n persoon met so ´n oriëntasie nie verantwoordelik gehou kan word daarvoor nie.

Wat is die verantwoordelikheid van iemand wat gay is? Iemand wat gay is het dieselfde verantwoordelikheid as enige ander persoon wat God wil liefhê met hart, siel en verstand. Dit is om alle sondige gewoontes af te lê en te streef na God se wil. God se wil sluit nie ´n gay lewenswyse in nie. Gay mense behoort egter nooit kwalik geneem te word vir hulle homoseksuele neigings en begeertes nie. Hulle sal egter soos enige ander persoon verantwoordelik gehou word vir wat hulle dóén. Ons kan nie altyd die regte goed voel nie maar ons kan die regte goed doen. Daarom mag ´n Christen met ´n homoseksuele oriëntasie hom / haarself nie begewe in ´n homoseksuele verhouding nie en moet hy/sy die keuse maak om selibaat te lewe.

Is dit nie ´n onregverdige las op gay mense om selibaat te bly nie? Ja, ons dink dit is. Om in ´n gebroke wêreld te leef is om die onregverdigheid van die lewe aan jou vel te voel. Die onregverdigheid van onnodige afdankings, ´n baba met “down” sindroom, ´n kind wat aan die dood afgestaan word. Die lewe gee aan ons almal onregverdige houe. Almal van ons moet ons laste egter dra met die geloof dat God goed is, sowel as die verantwoordelikheid en integriteit om ons gebroke lewens uit te leef in pas met God se doel vir ons lewens. Die enkellopende heteroseksuele persoon in sy/haar veertigs hunker ook na intimiteit en seksuele vervulling. Diegene onder ons het egter ook die verantwoordelikheid om sy / haar begeerte na intimiteit of selfs wellus te beheer en te leef volgens die wil van God deur te kies om rein te lewe. Jesus Christus het self ook in hierdie wêreld beleef hoe dit voel om alleen te wees, verwerp te voel, verraai te word en onskuldig tereggestel te word. God vra dus nie iets van ons wat Hyself nie bereid was om te dra nie.

Wat is Ruimsig Gemeente se verantwoordelikheid teenoor gay mense?
Sonder twyfel dieselfde twee dinge wat ons al die ander mense in ons gemeente bied naamlik:

1. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding van wie hulle as mense is en die stryd waardeur hulle gaan aangaande hulle eie identiteit.
NOTA: Dit is vir ons baie jammer dat homoseksuele mense so ontuis en onwelkom voel in kerke. ´n Alkoholis kan opstaan en erken dat hy ´n drankprobleem het. ´n Humeurige persoon kan erken dat hy ´n probleem met sy humeur het, ens, maar sal ´n persoon wat gay is die vrymoedigheid hê om in Ruimsig Gemeente op te staan en te sê: “Ek is gay. Help my”? Dis ons begeerte dat dit so sal wees!

2. Verder behoort ons alle mense die ondersteuning, begeleiding teregwysing te gee wanneer nodig om hulle geloof en lewe in Jesus Christus radikaal uit te leef en te word wat God wil hê hulle moet wees: heilig en onberispelik voor die Here.

2 Responses to “Ruimsig se standpunt oor Gays”

  1. Baie dankie vir die volledige en nederige opmerkings wat in my eie hart aanklank vind.

  2. Dis vir my ‘n delikate onderwerp omdat my suster gay is en sy het hard probeer om ‘n “normale” verhouding met ‘n man te hê. Sy was wel van kleins af “anders”. Sy het intussen weer betrokke geraak by ‘n vrou - alhoewel die lewenstyl verkeerd is, verstaan ek tog bietjie meer na ek jul standpunt gelees het. Dankie vir die insiggewende standpunt gegrond op God se Woord.

Leave a Reply