Agtergrond
WAT IS DIE H.E.R.S.T.E.L.L. PROGRAM?
Ons is almal gebroke mense. Almal worstel met kwellinge, wonde of gewoontes. Almal het herstel nodig, Jesus het gesê: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is…” (Mat 5:3)
Die Herstelprogram is ‘n 12 stap program wat mense help in ‘n kleingroep opset, om herstel in hulle lewens te ervaar. Dit is reeds 14 jaar in gebruik by Saddleback Church in Kalifornië (die kerk van Rick Warren, skrywer van die topverkoper, “Purpose Driven Life”) waar meer as 6000 mense die program met goeie vrug voltooi het.
Hierdie program word nou ook sedert Julie 2005 deur Ruimsig Gemeente aangebied!
Moenie dink dit is net vir drank- of dwelmverslaafdes nie! As ons eerlik wil wees almal van ons ly a.g.v. kwellinge of wonde of worstel met een of ander vorm van afhanklikheid. Dit kan wees oorwerk, oorspandeer, swaarmoedigheid, T.V., selfgesentreerdheid, seksuele verslawing, egskeiding, vrees of angs, misbruik, skuldgevoelens en vele ander moontlikhede.
Die doel van die H.E.R.S.T.E.L.L. PROGRAM is nie net om te herstel nie, maar ook om meer soos Christus in karakter te wees.
Sommige van die kenmerke wat die program anders maak:
1. Dit is gebaseer op die Woord van God. (Die woorde wat Jesus self gespreek het.)
2. Dit is toekomsgerig (i.p.v. om te fokus op die verlede).
3. Dit beklemtoon persoonlike verantwoordelikheid.
4. Dit beklemtoon geestelike oorgawe en toewyding aan Jesus Christus.
5. Dit fokus op ‘n kleingroep-opset waar ware samesyn (”community”) geniet word. (Mans en vrouens vorm aparte groepe.)
6. Alle vorme van gewoontes, wonde en kwellinge word aangespreek.
7. Dit bemoedig en bemagtig deelnemers om self bedieningsleiers te word.
Kom sien hoe jou en andere se lewens ten goede verander: hoe huwelike herstel word, hoe mense bevry word van allerhande sondige gewoontes!
Ons kan getuig van mense se lewens wat verander word deur die toepassing van HERSTELL beginsels wat Jesus aan die mens gegee het. Kom ervaar hoe sy hoë krag jou en andere bevry om vrede en kalmte en vreugde te ervaar – en meer nog, ‘n persoonlike verhouding met God.
As jy meer inligting oor die HERSTELL program soek of dalk by ‘n Herstelgroep wil inskakel, kontak gerus die kerkkantoor gedurende die week of kom besoek die Steunpunt op Sondae.

