Sukses Stories
Life change in Ruimsig Gemeente.
Waar begin ‘n mens as jy jou storie vertel? Ons lewensverhaal is ‘n doodgewone Jan-Rap- en- sy- maat verhaal.
Ek het grootgeword in ‘n huis waar Kerk toe gaan deel van ons roetine was, en om ‘n Christen te wees ook! - ‘n Normale roetine aktiwiteit. Tydens my kinderjare het ek telkemale my lewe vir die Here gegee, maar niks het drasties verander nie.
Selfs in my volwasse lewe het ek maar gedoen wat ander Christene doen. Elke Sondag Kerk toe gegaan en daar gesit en skuldig voel omdat ek so sondig is en nie regtig God se genade en liefde verdien nie. Ek was van die oortuiging dat ek hard moet werk in die lewe om enigiets te verdien…enigiets van my ouers se liefde, vriendskap, bevordering by my werk, en selfs aanvaarding!
Ek het ook ervaar dat niks in my lewe werklik wou uitwerk nie, in elk geval nie soos ek dit beplan het nie. Ek het deurentyd nie “goed genoeg” gevoel nie. Telkens het ek een of twee trappies op geklim en weer drie terug geval. My lewe was ‘n “struggle”…..en elke keer as die “struggle” te erg geword het, het ek na my 911 lyn gegryp - die direkte lyn hemel toe.
Op ‘n dag het my “Lewens struggle” amper die oorhand gekry. Ek was so gefokus op die grootmaak van ons kinders dat ek nie die gevaartekens raakgesien het nie. Ons huwelik was op die rotse……Ek het die nuus by ‘n vreemdeling gehoor en dit het my verpletter my emosies het soos golwe oor my gespoel. Eers haat en woede: Hoekom ek, waarom ons? Toe kom die benoudheid en vrees: Wat gaan van ons word? Laastens die vernedering en skande: Wat sal die mense sê? Ek voel weereens nie goed genoeg nie!
Ek het besluit ek wil nie skei nie, want ek het die man lief met wie ek getrou het en ek gun hom vir niemand anders nie. Ons het vir ‘n kort rukkie ‘n berader gaan sien, maar dit was nie lank genoeg om regtig deur die ding te werk nie! Dis toe dat my “struggle” eers werklik begin het!
In die eerste ses maande was ek in oorlewings “mode”. Alles wat ek gedoen het, was om te oorleef, met my man langs my sy, natuurlik! Daarna het ek gevoelens van afsku ervaar. Ek het gewonder of ek besig was om dit te verloor. Ek wou nie meer hier wees nie en ek wou nie meer hierdie huwelik hê nie. Na vier jaar se vashou en vasbyt het ‘n wonderwerk gebeur.
Vriende het ons vertel van hierdie “amazing” Gemeente en ons genooi om te kom kyk hoe dit daar by Ruimsig lyk. Van die eerste Sondag af het “weird en wonderful” dinge in ons lewens begin gebeur. Ons hele gesin het begin uitsien daarna om Kerk toe te gaan. Ons kon nie wag vir Sondae om te kom luister en te ervaar nie. Binne die eerste twee of drie dienste het ons geweet dat ons, ons kerkfamilie gevind het.
Tydens die eredienste het die Here met elkeen van ons, met my en my man, op ons onderskeie maniere “ge-connect”. Ek het gedurende ‘n diens op die 29ste Februarie 2004 my hart vir die Here gegee. Hierdie keer was dit anders, dit was diep in my wese, nie in my kop nie, my hele menswees het gevoel ek wil die Here dien!
Maar die duiwel wou nie so maklik sy werk in my laat vaar nie en aan die einde van 2004 spiraal my lewe heeltemal buite beheer. Ek word ook na die woestyn gelei om daar getoets te word. Op al die gebiede in my lewe word ek getoets.
Die situasie in ons huwelik het so vererger dat ons op hierdie stadium vir maande nie met mekaar gekommunikeer het nie, en dit het ‘n ontsettende negatiewe invloed op ons kinders gehad. Hulle het onseker en oorsensitief begin word.
As gevolg van ons slegte situasie het ons, ons beste vriende verloor, en by my werk het hierdie negatiewe gevoelens my so oorheers dat ek besef het dat ek nie myself is nie en dat ek nie my beste lewer nie. Ek moes eerder bedank!
Ek het gevoel ek wil bly lê en ploeter in die modder….. dat ek nooit weer wil opstaan nie. Dis daar waar die Here self my kom uithaal het. Hy het my uit die modder kom haal en my trane afgedroog. My “lewensstruggle” het nou verander na ‘n” Journey” met die Here aan my sy. Toe ek op my swakste was – kon ek die Here se krag sien en ervaar.
Ek het ook die Here ervaar deur Ruimsig Gemeente, die Vrouekamp, die kleingroep, die Gemeentekamp en die mense in Ruimsig wat ons lief het net soos ons is.
Ek en my man het ook by die Herstelprogram aangesluit wat by Ruimsig aangebied word en Jesus stap nou met elkeen van ons ‘n pad. Ons lewe nou ‘n “normale gesinslewe” en sien saam elke “struggle” as ‘n uitdaging.
Ruimsig Gemeente het ons as gesin weer perspektief op ons lewens gegee. Ons het besef dat die Here nie mislukkings maak nie, en dat Hy ons kan gebruik net soos ons is. Ons leef nou elke dag in dankbaarheid op ons tweede kans en streef daarna om meer soos Jesus te wees, meer vir Hom te leef en meer van die Bybel te leer! Ruimsig Gemeente is ons hoop ……..dit kan joune ook wees!


Hier lees ek presies wat als met my en my huwelik gebeur. Kon net so wel my verhaal gewees het, het al begin dink om te skei van my man die beste oplossing sal wees want ons lewe in elk geval soos vriende saam en deel niks meer nie.
Dankie dat jy jou verhaal gedeel het, nou voel ek nie so verlore nie.