Missie en Visie
Missie (Hoekom is ons hier):
God sien ’n prentjie van ’n wêreld wat Hom bo alles lief het en ook hul naaste soos hulself. Daarom gee Hy vir elke kerk ’n missie, nl. die groot opdrag (Matt 28: 19-20). Ruimsig Gemeente volg van die begin af hierdie missie om die groot opdrag uit te voer. Die strategie wat gevolg was, was “Get and Grow” en later “Purpose Driven”.
· Matt 28: 19 “Maak die mense my dissipels…” = Redding = “get” = Bekeer
(ver van God)
· Matt 28: 20 “leer hulle om alles te onderhou…” = Groei = “grow” = Leer
(radikale volgelinge)
Ruimsig Gemeente se missie/lewensdoel is dus:
Om mense wat ver van God is te begelei tot radikale volgelinge van Jesus Christus.
Visie (Wat is die eindresultaat):
Ons sien mense wat begin om die groot gebod (Matt 22: 37-39) uit te leef. M.a.w. deurdat hulle tot bekering kom begin hulle liefde vir God en deur die proses van radikale volgelinge te word leer hulle van liefde vir hulle naaste. In hierdie proses word die 5 lewensdoele gereedskap waarmee hulle geestelike volwassenheid gemeet kan word, want sodra iemand al 5 lewensdoele uitleef kan hy bestempel word as ’n radikale Jesus volgeling.
Ruimsig Gemeente se visie is soos volg:
Ons sien ‘n plek waar God se hoër doel van aanbidding, fellowship, dissipelskap, ministry en evangelisasie verwesenlik word in die lewens van alle mense in die konteks van ‘n plaaslike gemeenskap.
Wat glo ons?
· Die Bybel is die Woord van God en is kragtig, onfeilbaar in sy boodskap en genoegsaam vir enige persoon se geestelike lewe.
* Daar is net een ware God van die hemel en die aarde en Hy openbaar Homself in die Bybel in die gestaltes van drie Persone, naamlik Vader, Seun en Heilige Gees. Elkeen van hierdie drie Persone is God, maar kan tog duidelik van mekaar onderskei word.
* Alle mense is na God se beeld geskep en word deur God genooi tot gemeenskap met Hom.
* Sonder Jesus Christus is alle mense verlore en geen mens is daartoe in staat om op eie houtjie vir God ’n keuse te maak, Hom te dien of selfs net na Hom te soek nie. ’n Mens word egter sonder verdienste aan sy eie kant deur die Heilige Gees gedryf om Jesus Christus deur geloof te aanvaar as Redder en Leier van sy lewe.
* Jesus Christus is die tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid en is deur die Heilige Gees verwek en gebore uit die maagd, Maria. Hy het ’n sondelose menslike lewe geleef, in ons plek aan die kruis gesterf en op die derde dag opgestaan uit die dood. Hy sit tans aan die regterhand van die Vader waar Hy plek voorberei vir die gelowiges en as Voorspraak vir hulle optree. Eendag in die toekoms sal Hy terugkom soos wat Hy opgevaar het na die hemel en so God se plan vir die wêreld vervul.
* Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Drie-eenheid. Hy oortuig die wêreld van sonde en trek mense na God. Hy woon in alle gelowiges en voorsien ons van krag om elke dag nader te groei aan die gestalte van Christus.
* Die dood seël die ewige bestemming van elke mens. Ongelowiges word hier van God geskei om vir ewig sonder Hom te ly, terwyl die gelowiges vir ewig met God versoen sal word.
* Elke gelowige is deel van die liggaam van Christus, die een ware, algemene en Christelike kerk. Eenheid onder God se kinders word gedemonstreer deur die aanvaarding van en liefde vir mekaar oor die lyne van etniese, kulturele, sosio-ekonomiese, nasionale, geslagtelike of denominasionele grense.
* Die plaaslike Gemeente is ’n vergadering van gelowiges wat gereeld bymekaar kom vir aanbidding, gebed, onderrig, bemoediging, onderlinge rekenskap en gemeenskap met mekaar. So gebruik die gemeente sy tyd, energie en lewensbronne om verlore mense te bereik en hulle te laat groei sodat hulle Christus voluit volg.

